Oorplantings

Die vervanging van siek of beskadigde lewende weefsel word reeds eeue lank uitgevoer. Afgesien van die makliker uitvoerbare weefseloorplantings (vel, been) is dit vandag ook moontlik om hele organe, soos die niere en hart, oor te plant. Oorplantings is die vervanging van lewende weefsel of organe by ʼn lewende organisme deur gelykwaardige strukture van dieselfde of 'n ander organisme.

Indien byvoorbeeld 'n stuk vel by 'n persoon vervang word deur vel van 'n ander deel van sy liggaam, word dit outo-oorplanting genoem. Die skenker en die ontvanger van die oorgeplante weefsel is in die geval een en dieselfde persoon. Wanneer die skenker iemand anders is maar wat wel oor erflike eienskappe beskik wat sterk verband hou met die van die ontvanger, word van iso-oorplanting gepraat. By die mens kan dit alleen tussen tweelinge plaasvind.

As die skenker 'n ander individu is, word van allo-oorplanting gepraat. Indien iets van ʼn dier op 'n mens oorgeplant word, word dit xeno-oorplanting genoem. Die ou Indiërs was al daartoe in staat om iemand se neus wat as straf vir diefstal afgekap is, met behulp van 'n stuk van die voorkop te rekonstrueer. Die Romeinse geneeskundige Aulus Cornelius Celsus (ca. 25v.C. tot 50 n.C.) het allerlei oorplantingstegnieke beskryf.

In 1597 het Gasparo Tagliacozzi (1546-1599) van Bologna sy boek, De curto rum chirurgia per insitionum ("Chirurgiese behandeling van verminktes deur middel van oorplantings"), gepubliseer waarin die vervanging van verlore neusweefsel deur vel van die boarm beskryf word. Sedert die 19e eeu is oorplantings op 'n wetenskapliker grondslag geplaas.

Veloorplantings is eerstens behoorlik bestudeer. Daar is ontdek dat so iets nie tussen die mens en ʼn dier moontlik is nie omdat ʼn verwerpingsreaksie ontstaan. Hoewel daar binne die spesie gebly word (allo-oorplanting), vind die reaksie nog dikwels plaas. Teenswoordig word veloorplantings beperk tot outo-oorplantings, waarby die verwerpingsreaksie nie voorkom nie.


Developed by StudentB